Riseingsouthernstar-Africa Link Banner

Saturday, 25 May 2013

ONS IS BOERE

ONS IS BOERE


Die Boerevolk is ’n volk in sy eie reg wat nie deur omskrywing of wetgewing tot ’n blanke groep verander kan word nie. Die verlaging van sy status vanaf volk met eie grond wat in die totale bekende wêreld erkenning geniet het, tot deel van ’n blanke groep, waardeur die feit van sy bestaan verontagsaam en ontken word, is onaanvaarbaar.
Erkenning van die Boerevolk as ’n volk, met die reg van selfbeskikking en reg op ’n eie vaderland, is ’n saak van eerste belang.

 

Om ’n volk, in die geval die Boerevolk, te verhinder om volkome volk te wees, is ’n misdaad teen die mensdom. ’n Volk kan slegs volkome volk wees indien hy hom kan uitleef deur onder andere sy taal vrylik en ongehinderd te mag praat, besluite wat sy toekoms raak self te mag neem ongeag of dit oor godsdiens of onderwys handel, kan assosieer met wie hy wil, sy kultuur en tradisies uitleef en vele meer. Om volkome volk te wees moet ons besluite oor onsself kan neem, deur ’n eie owerheid te hê wat oor ons regeer in ’n eie onafhanklike land. Dan kan ons die ontwikkelingsfase voortsit om ons ryk kultuurerfenis nog verder te ontwikkel. Ons kinders sal weer as Boere grootword en die Boer sal homself kan handhaaf naas die ander volkere van die wêreld.